Hoofseun 2025. Die afgelope aantal jare het Schools That Rock onderhoude gepubliseer met Hoofleiers van skole in Suid-Afrika. Hierdie jaar maak ons weer so en gesels vandag met die Hoofseun 2025 van Hoërskool Punt in Mosselbaai, Reece Meyer.
“As Hoofleier 2025 van Hoërskool Punt, sien ek daarna uit om werklik ’n verskil te maak deur te lei. Nie net in ons skool nie, maar ook in hoe ons mekaar sien. Dit gaan vir my oor die klein dinge. Soos om ’n glimlag op iemand se gesig te sit wat dalk ’n moeilike dag het, of om te help waar ek kan. Ek sien ook uit daarna om die kans te kry om kreatiewe tradisies in te stel. Dit moet iets wees waarop studente ná my kan voortbou. Ek en Dané het alreeds ‘n paar planne en werk doelgerig om dit so gou moontlik te bewerkstellig.
My persoonlike doelwit hierdie jaar, is om konstant te groei en sodoende ’n beter weergawe van myself te wees! Iemand wat selfvertroue het, empatie wys en bereid is om foute te maak en daaruit te leer. Ek wil hê ander moet sien dat ’n leier nie perfek hoef te wees nie. Hy moet wel betroubaar en deurlopend in sy pogings wees. Dis al ‘n paar maande na my aankondiging. Met al die verantwoordelikhede het mens nie ‘n keuse nie, maar om daagliks te groei nie.
Met my doelwit vir Hoërskool Punt wil ek graag ’n gevoel van gemeenskap bou. Ek wil hê dat almal, van die matrieks tot die Graad 8’s wat sukkel om sy klas te vind, voel dat hulle iets beteken en dat ons hulle raaksien. Daar moet ’n gesindheid van “ons” wees, nie van “ek” nie.
Eienskappe van Punt
Sonder om twee keer te dink sal ek sê die eienskappe van Hoërskool Punt wat die meeste uitstaan, is ons waardestelsel en ons diversiteit. ‘n Goeie skool is gebou op sy goeie waardestelsel. Ons wil dit nog meer kan verbreed. Een van ons projekte is die implementering van ‘n prettige waarde-program. Ons skool is ook ’n samesmelting van verskillende persoonlikhede, kultuurgroepe, talente en vermoëns. Die waardestelsel gee aan almal ‘n plekkie in die Punt-Familie. Dit is beslis ‘n plus-punt en in my opinie ons “kragtigste wapen.”
Soos reeds genoem, die verdere implementering van die waardestelsel lê na aan my hart. Om kern-waardes en nuwe leefwyse in te stel, op maniere wat ons sal onthou en ons forseer om dit te implementeer, is veel meer effektief as om ‘n stel reëls vir tieners te gee en te hoop hul gaan dit volg. Ek dink ook ons kan meer doen om gemeenskapsprojekte aan te moedig en “purpose” agter ons aksies te sit.
Indien jy na ‘n skool soek vir elke kind, met diverse aktiwiteite van amper elke sportsoort en kulturele aktiwiteit, is Punt daardie skool. Punt het ‘n skool-gemeenskap wat werklik jou beste belange op die hart dra. Die skool help jou om jou drome te koester. Ons Graad 12’s se 100% slaagsyfer van die afgelope twee jaar doen self die praatwerk. Punt is ‘n skool wat die vooruitgang van elke kind prioritiseer. Verder is geen ander skool se sokkies is so lekker soos Punt s’n nie!
Leiers-eienskappe
My sterkste leiers-eienskap is kommunikasie, diensbaarheid en respek. Dit is heel bo-aan my lysie. Dis my “spesiale drie” waarvolgens ek lei. Hierdie drie eienskappe is my mees natuurlike eienskappe in leierskap.
Om samewerking te ontvang van jou mede-leiers moet jy ‘n verhouding van vertroue en wedersydse respek by hulle skep. Jy moet egter self hard werk om daardeur ‘n voorbeeld te stel. Ons is gelukkig om ‘n prefek-span te hê wat ons bankvas bystaan en altyd gretig is om te help. As ek my span wys dat ek hulle vertrou en hulle opinies waardeer, sal hulle meer geneig wees om saam te werk. En, natuurlik, ’n bietjie humor en ’n pizza of twee werk altyd!
My Shirla
Die personn na wie ek die meeste opsien, is my Shirla. Eintlik my ouma se sussie, maar meer soos ‘n tweede ma vir my. Nie net maak sy díe lekkerste kos nie, sy inspireer my daagliks om ‘n beter mens te wees. Ek is deur haar grootgemaak en amper alles wie ek vandag is, is te danke aan haar. Ek kyk op na haar, nie omdat sy enige groot suksesse bereik het nie, maar omdat sy altyd hulpvaardig, entosiasties en positief is. Sy vind die mooi in ander en in elke situasie en toon wat dit beteken om onvoorwaardelik lief te hê. Ek wens almal het ‘n Shirla in hulle lewe.
My gunsteling gereg is enigiets by Nandos! Almal wat my ken, weet dat hoe sterker, hoe beter. Hulle sê die pad na ‘n man se hart loop deur sy maag en ek moet getuig, daar is iets van ‘n bordjie geelrys met ‘n “chicken strip” en groente wat my magie ekstra gelukkig maak.
Indien ek ’n kombuisartkel sou wees, sou ek ’n waffelmaker wees. Want ek vat die alledaagse en gee dit ’n bietjie ‘flair!’ ’n Waffelmaker vat gewone beslag en druk dit in iets met tekstuur, patroon en smaak. En soos ’n waffelmaker, bly ek kalm en gefokus, selfs al word ek onder druk geplaas. En, net soos elke wafel uniek uitkom, glo ek daarin om mense se uniekheid te vier.
Dagdroom
Waaroor ek dagdroom is ‘n pakkie 2-Minute Noodles, ‘n goeie Netflix series, reën-weer en my snoesigste beddegoed. Niks beter as dit nie!
My loopbaankeuse? Ek het ’n passie vir mense en om hulle te help om hul volle potensiaal te bereik. Arbeidsterapie is ’n loopbaan waar ek nie net fisies mense kan help nie, maar ook emosioneel en geestelik. Daar is iets ongelooflik vervullend daaraan om ’n rol te speel in iemand se reis na ’n beter lewe. ‘n Loopbaan met impak. Ek sal baie graag by die Universiteit van Kaapstad (UCT) of Stellenbosch Universiteir studeer.”
Meer skolenuus: https://schoolsthatrock.co.za/
https://www.pointhighschool.co.za/
Foto verskaf
Become a Sponsor








