Sean Erasmus het die kompas wat die pad van sukses vir die Hoër Jongenskool Paarl aandui in Durban gekry.

SEAN ERASMUS BOISHAAI AFRIGTER

FOTO BO:  Sean Erasmus, afrigter van die Hoër Jongenskool Paarl, tydens sy span se wedstryd teen Paul Roos op 27 Mei. Boishaai was met 21-9 baas.

Van 2001 tot 2013 het hy as ’n afrigter in Durban skouers geskuur met die Haaie se destydse afrigterskorps van Swys de Bruin, Rudolf Straeuli, Sean Everitt, John Plumtree, Hans Scriba en Etiene Fynn. Erasmus (39) was toe by die Haaie se akademie en by die Vodacombeker-, o.19-, Cravenweek- en verskeie ander skolespanne betrokke.

Boishaai het Saterdag Bishops, die rugbytrots van die Kaap se suidelike voorstede, met 25-0 ore aangesit en só sy 47ste agtereenvolgende sege in Suid-Afrika behaal – ’n ongekende prestasie.

FOTO HEEL BO:  Stuart Tait (nr. 14) en Pierre Pretorius omhels ná Boishaai se sege oor Grey-kollege verlede maand.

“ ’n Suksesvolle rugbyspan gaan oor meer as net die tegniese afdelings van die spel,” sê Erasmus.

“Dít het Swys my spesifiek geleer. Swys het destyds toe ons as afrigtingspan van die Haaie se o.19’s Bybelstudie voor ’n wedstryd gehou het, sy hart oopgemaak. My lewe het daardie dag verander. My uitkyk op rugby ook.

“Baie mense voel ongemaklik as jy oor Christenskap praat. Maar Christenskap is vir ons belangrik. Ons as ’n span het al groot manne se lewens omgedraai, verskeie seuns s’n ook. Ons wil ’n verskil maak. Die span word die afgelope drie seisoene onder die Engelse slagspreuk #ETFG – Every try for God – saamgebind. Ons respekteer terselfdertyd elkeen in die span se geloof.

“Dis vir ons belangrik wat mense raaksien as jy rugby sou wegvat en na die span dan kyk. Ons wil nie net van elke seun ’n beter speler maak nie, maar ook ’n beter mens.”

Erasmus is in 2014 as Boishaai se hoofafrigter aangestel nadat hy onder meer welslae as Glenwood High in Durban se hoofafrigter behaal het.

Twee van die belangrikste skuiwe wat hy gemaak het toe Paarl sy tuiste geword het, was om die eerstespan-groep tot 30 spelers te vergroot.

Hy is ook die vryheid gegun om vir hom ’n bestuurspan van agt lede saam te stel (waarvan die meeste van buite die skool is), wat die gewese Vrystaatse losskakel Conrad Barnard as sy skopafrigter insluit. Die voormalige Bok-atleet Tanya (Peckham) Malherbe help die span met sy voorseisoense hardloopprogram.

“Die groep van 30 spelers help vir bestendigheid. Ons reis altyd as ’n span saam, ‘#Familia’. As die eerste span byvoorbeeld aan ’n toernooi in Johannesburg deelneem, sal ons ook vir die tweede span iets daar reël,” het Erasmus gesê.

“Die meerderheid spelers in ons tweede span is in gr. 11. Hulle leer nou oor die eerste span se waardes op toere en in die spanbus.

“Ek word werklik omring deur ’n sterk bestuurspan wat die vorige hoofafrigter, Elmo Wolf­aardt, insluit. David Sadie werk met die tweedes. Ryno Rust is ons kondisioneringsafrigter. Anzel Brink (fisioterapeut) en dr. Kobus Uys doen puik werk op die mediese front vir die span.

CHRISTENSKAP IS VIR ONS BELANGRIK. DIE SPAN WORD ONDER DIE SLAGSPREUK #ETFG – EVERY TRY FOR GOD – SAAMGEBIND.

“Richard Visagie, ’n oudafrigter van die eerste span en ’n veteraan van Boland-rugby, werk ook hard aan die span se skrumwerk. Die skool, senior bestuur en onderwysers speel self ’n groot rol en is altyd vol ondersteuning vir die seuns en span. Almal van hulle is die heel beste of van die beste in die land.”

Soos die meerderheid ander toprugbyskole in die land, fokus Boishaai om talent in gr. 8 te werf wat gebalanseerd is en die kultuur van die skool omarm. ’n Noue band bestaan juis tussen Erasmus en sy talentwerwer, Johnny van Niekerk (ook die bestuurder van die eerste span), om te verseker dat enige moontlike leemtes in die eerste span deur die regte spelers aangevul word.

Erasmus erken dat sy span se onoorwonne rekord druk op sy spelers plaas.

“Ons verwys altyd daarna as die olifant in die kamer. Ons verstaan ons gaan êrens weer verloor. As dit gebeur sal ons weer opstaan en herbou.

“Ons praat egter nie oor die rekord nie. Ons stel eerder klein doelwitte wat in elke wedstryd behaal moet word.”

Francke Horn is die span se kaptein en is nog ’n belangrike steunpilaar vir sy afrigter.

Erasmus het ’n indrukwekkende CV opgebou sedert hy in 1997 by sy mentor Herman Viljoen as die Hoërskool Estcourt se eerstespanafrigter oorgeneem het. Onder sy suksesse tel Glenwood wat in 2008 die gewilde Sanix-toernooi in Japan gewen het.

In 2005 is hy ná ’n oefenkamp van twee weke by die Iranz-hoëprestasiesentrum in Wellington, Nieu-Seeland, as die belowendste afrigter aangewys. Vyf jaar later is hy as die beste afrigter uit 350 aangewys wat aan Jake White se Winning Ways-klinieke deelgeneem het.

In 2015 is Erasmus as die hulpafrigter van die Suid-Afrikaanse skolespan aangestel, waarna hy van verlede jaar af die hoofafrigter van die Suid-Afrikaanse A-skolespan is.

“Dit was nie altyd ’n maklike pad om hier uit te kom nie. Ek het in ’n stadium ná skool selfs gras op die snelweë gesny.

“Ek was ook vir ’n ruk ’n plaasbestuurder, voordat ek aan my ouers gesê het dat ek ’n lewe as ’n rugbyafrigter wil maak.

“Ek het baie onder afrigters soos Swys- en Rudolf-hulle geleer. Dinge wat my nou baie help. Só ook van die WP en die Stormers se afrigters.

“Niks sou egter moontlik wees sonder my vrou, Karen, en kinders, Matthew (hy is terloops ook ’n haker by Kleinbois) en Madison, se ondersteuning nie. En ja, ek het soos die res ook groot drome.

“Ek droom ook daarvan om eendag die Bokke af te rig.

“Maar als draai om die span en nie oor my nie.” – Bykomende ­beriggewing deur Hannes Nienaber

Oudleerlinge wat keelvol was om meestal aan die verloorkant in kragmetings met Paarl Gimnasium te wees, was in Augustus 2013 van die argitekte in ’n regrukplan wat die eerste rugbyspan van die Hoër Jongenskool Paarl die afgelope drie seisoene ’n onstuitbare masjien maak.

Hulle het op hul jaarvergadering op verandering aangedring. Boaan hul versoeklys was om een van die land se voorste afrigters op ’n heeltydse grondslag te bekom.

Dan van Zyl, ’n oud-Springbok-skrumskakel en krieketspeler van die destydse Noord-Transvaal, Eugene Eloff, wat die Leeus afgerig het en nou in die VSA afrig, en Hein Kriek van die Pumas was van die name op die kortlys toe daar op Sean Erasmus besluit is.

Nog elemente van die plan het die volgende ingesluit:

’n Hoofborg is deur Carel van der Merwe, ’n oudleerling, bekom. Verskeie oudleerlinge was ook bereid om geldelike bydraes te maak om te sorg dat Boishaai soos ’n professionele span op skolevlak bestuur word.

Daar is met die werwing van talentvolle gr. 8-spelers begin.

Erasmus moes ná sy aanstelling van die geld aanwend om die skool se ander afrigters na kursusse soos dié van Wêreldrugby te stuur.

’n Rugbyadvieskomitee is begin met die gewese Bok-skrumskakel Christo Ferreira en Phillippie du Toit wat gehelp het om dit op die been te bring.

 

Become a Sponsor