ATKV Toneelaanbod. Die jaar 2022 was ’n groot hoogtepunt vir die ATKV se toneelaanbod. Duisende toneelliefhebbers het hul terugkeer gemaak na die verhoog en dreunend dapper ook spel vir die kamera aangedurf.
ATKV-Tienertoneel het weer sy volle kapasiteit bereik met 172 produksies. Die produksies het landswyd meegeding om as die beste produksie gekroon te word. ATKV-DigiToneel se deelnemers het tydens die tweede seisoen van die ATKV se realiteitsreeks Gekies vir die Kollig op DStv opspraak gemaak. Daar was ‘n verbysterende groei van 400% in deelname aan die ATKV se jongste toneelkompetisie, ATKV-Tjokkertoneel, sedert sy eerste aanbieding voor die Covid-19-pandemie in 2019.
“Die kreatiwiteit en entoesiasme waarmee deelnemers die ATKV se toneelprojekte aanpak, is grensverskuiwend. Hulle gee die pas aan van hoe die ATKV sy projekte moet vernuwe en aanpas om met hierdie talent en passie by te hou,” is die mening van JJ van Niekerk, projekorganiseerder van die ATKV se toneelaanbod.
Die spyskaart is opgedis en van die resepte is bietjie aangepas om in 2023 vir alle deelnemers ’n unieke ervaring te beloof.
“Ons put in 2023 inspirasie uit die tema, ‘GRENSLOOS’,” noem JJ. Hy verduidelik dat die ATKV se deelnemers graag die toneelplatforms gebruik om vreesloos te eksperimenteer. Jy kan ’n konsep baie moeilik in ’n boksie druk of jou vinger op ’n wenresep neersit.
“Dit is presies wat ons wil hê deelnemers moet doen!” benadruk JJ. Hy het die uitnodiging gerig aan huidige en voornemende deelnemers. Die deelnemers is genooi om die spreekwoordelike grense te oorskry in 2023. Hulle moet verder die pas aangee vir die film- en teaterindustrie om te groei. “Kom wees saam ‘GRENSLOOS’!”
ATKV-Tienertoneel
Die ATKV-Tienertoneelkompetisie kweek ’n liefde vir toneelskepping in Afrikaans, toneelspel en teater-kyk by hoërskoolleerders. Dié oudste projek van die ATKV bied ’n platform vir talentontwikkeling en is ’n smeltkroes van kreatiwiteit. Met ATKV-Tienertoneel word elke regisseur aangemoedig om die leerders soveel geleenthede as moontlik te gee. Hulle moet ook by al die aspekte van die projek betrokke te raak. Betrokkenheid by die spel en regie, skryf van tekste, kostuums, dekor, grimering, klank, beligting, verhoogbestuur, choreografie, ensovoorts.
ATKV-DigiToneel
ATKV-DigiToneel is ’n voorloperplatform vir tieners om hul eie monoloë onder ’n nuwe temawolk te skryf en dan vir beoordeling te verfilm. Die ATKV gaan hierdeur in sy doel slaag om ’n liefde vir toneelskepping en film te bevorder. Dit gebeur deur op kameraspel, kinematografie en die skryf van tekste te fokus.
Die finaliste maak hul buiging op televisie met die ATKV se realiteitsprogram, Gekies vir die Kollig. Dit sal in Oktober 2023 sy derde seisoen op DStv-kanaal 147 (VIA) uitsaai.
Ontwikkel jou spel vir die kamera en gee jou skryftalent vlerke saam met ons mentors!
ATKV-Tjokkertoneel
Met ATKV-Tjokkertoneel word laerskole aangemoedig om jong leerders bloot te stel aan teaterkuns en drama. Dit word gedoen deur middel van mini-tonele.
Deur die opbouende proses van toneelspel, ontwikkel die leerders selfvertroue, kommunikasie- en luistervaardighede, en verbreed hul woordeskat.
Kom leef dus jou liefde vir toneel uit en betower gehore op die ATKV-Tjokkertoneelverhoog met jou laerskool se beste mini-toneel.
Die ATKV is verder baie opgewonde om aan te kondig dat al die finaliste van die ATKV se totale toneelaanbod vanaf 1 tot 3 Oktober in sy eerste ATKV-Jeugteaterfees te Gold Reef City se Lyric Theatre op die planke is.
Die ATKV is opgewonde om elke deelnemer se besonderse bydrae en harde werk te aanskou. te waardeer en te mentor in Suid-Afrika se smeltkroes van kreatiwiteit. Dit sal in 2023 grensloos skitter.
Vir meer inligting besoek https://www.atkv.org.za
Meer skolenuus: https://schoolsthatrock.co.za
Foto’s verskaf