Hokkie Kapteins. In ons reeks oor sport kapteins, gesels Schools That Rock vandag met Ian de Jager. Ian is die kaptein van Hoërskool Outeniqua in George se 1ste seuns hokkiespan. Hy teken vandag die sewe-en-twintigste doel aan in ons reeks oor Hokkie Kapteins van hoërskole in Suid-Afrika.
“Ek het in Graad vierbegin hokkie speel, Ek was toe tien jaar oud. Ek hou van hokkie want dit gee my die geleentheid om saam met al my vriende op die veld uit te draf. My ma het my gemotiveer om te begin hokkie speel en ek was mal daaroor van dag een af.
My gunsteling professionele hokkiespeler is Manpreet Singh. Hy is ‘n baie goeie ‘drag-flicker’ en ‘n goeie leier.
Die posisie wat ek tans speel is ‘centre-link’ Ek het ook al ‘centre forward’ en ‘centre back’ gespeel.
Eerste keer kaptein
Ek was vir die eerste keer as kaptein gekies in Graad 4. Ek beskou my grootste taak as hokkie kaptein om te lei deur my voorbeeld op en van die veld af.
Ons span oefen vier keer per week. Ons het twee sessies op die Astro en twee kondisionering-sessies. Ek gym ook gereeld en speel ook baie ‘squash’. Die bekwaamhede waaroor ‘n goeie hokkie speler moet beskik is deursettingvermoë en selfdissipline.
My sleutel tot sukses op die hokkieveld is om regtig te luister na die raad van jou afrigters. Jy moet dit dan toepas en altyd jou alles gee tydens oefeninge en in wedstryde.
Wat my die meeste inspireer, is wanneer ons op die veld draf en besef dat ons vir Hoërskool Outeniqua speel en nie net vir onsself nie.
Die lekkerste wedstryd vir my tot dusver was teen Worcester Gimnasium. Die tellings was die hele wedstryd gelyk en op die ou einde het ons hulle in 8 seconds oorwin.
‘n Wedstryd waarvan ek gou wil vergeet was ‘n oefenwedstryd teen ‘n skool se span. Hulle het ons oortuigend geklop. Wat ek deur daardie wedstryd geleer het, is dat dit beter is om as ‘n span saam te speel as om staat te maak op individuele spelers.
Druk hantering
Ek hanteer druk tydens ‘n hokkiewedstryd deur diep asem te haal en te fokus op dit wat ek moet doen en op wat my werk op die veld is. As hokkie kaptein motiveer ek my span deur altyd my alles te gee. Dan probeer ek ook om daardeur die ander te motiveer.
My top vyf prioriteite is God, familie, vriende, sport en akademie.
My raad aan beginners in hokkie is om nooit moed op te gee of moedeloos te raak as jy iets nie regkry nie. Dit sal alles op die ou einde die moeite werd wees as jy terugkyk.
Ja, ek kyk gereeld professionele hokkie-wedstryde op die TV en op YouTube. ‘n Mens leer baie by hulle en sien dinge raak wat jy dan self kan probeer toepas. Ek kyk na die professionele spelers en probeer dan die regte tegniek by hulle aanleer en probeer dit dan toepas.
My doelwit vir die toekoms is dat ek graag die provinsiale span wil haal.
Verantwoordelikhede
Ek hanteer my verantwoordelikhede by hokkie saam met sosiale en akademiese verantwoordelikhede deur gedurende die week op akademie en sport te fokus en dan sosialiseer ek meestal gedurende naweke.
Ja, ek sal graag met hokkie wil voortgaan na skool op Universiteits- en provinsiale vlak.
My grootste enkele hoogtepunt die afgelope vyf jaar was toe ek die voorreg gehad het om in Egipte muurbal te kon speel teen die wêreld se top-spelers.
Ander belangstellings, buiten hokkie, is ‘gym’ en ‘squash’.
My afrigter en spanmaats sal my beskryf as fiks, gedetermineerd, en hardwerkend.
Die bekwaamhede waaroor ek as goeie hokkie kaptein beskik, is my goeie visie en ek gee nooit op nie.
Ja, ek het al ‘n voorstel gemaak wat gewerk het. My voorstel was dat ons rustig met mekaar moet kommunikeer en nie op mekaar skree nie.
My rolmodel is my indoor hokkie afrigter. Ons stap al ‘n lang pad saam en ek het al baie by haar geleer.
Wat my die gelukkigste in die lewe maak, is om tyd te spandeer met my meisie en vriende.
Die professionele hokkiespeler met wie ek graag sal wil koffie drink, is Jeroen Hertzberger.
Om myself in een woord te beskryf, kompeterend.
Meer skolenuus: https://schoolsthatrock.co.za
Foto verskaf