Hokkie Kapteins. In ons reeks oor sport kapteins gesels Schools That Rock vandag met Abby Gail van Rhyn. Abby Gail is die kaptein van Hoërskool Goudveld, Welkom, se 1ste meisies hokkiespan. Abby Gail teken vandag die vierde doel aan in ons nuwe reeks oor Hokkie Kapteins van hoërskole in Suid-Afrika.
“Ek was 10 jaar oud toe ek vir die eerste keer hokkie gespeel het. Die rede waarom ek begin kokkie speel het, was om by my vriende te wees. Ek was klein, so ek wou die oulike rompies dra wat my skool se spanne gedra het. Ek het aanhou hokkie speel omdat ek dit geniet het, en ek het gevoel ek het nog baie om te leer.
My gunsteling professionele hokkiespeler is Erin Hunter. Sy is ʼn goeie leier en ʼn goeie speler.
Die posisie wat ek tans speel is “forward of link“. My gunsteling is forward. Dit is al posisie wat ek al ooit gespeel het.
Eerste keer hokkie kaptein
Die eerste keer wat ek hokkie kaptein was, is in 2017. Ek was toe die kaptein van my laerskool se span. Hierdie jaar is die tweede keer wat ek as hokkie kaptein gekies is. Volgens my is die grootste taak van die kaptein om die dissipline en intensiteit op standaard te hou.
Ons span oefen vier keer ʼn week. As ons op Saterdae ʼn wedstryd speel, oefen ons Vrydae ook, met net die kapteine.
Ek dink ‘n goeie hokkiespeler moet ten alle tye kalm bly en ‘n goeie sportman wees. Die wen of verloor moet nooit jou spel beïnvloed nie. Ek kommunikeer met my span. Hokkie is ʼn spansport en ʼn span is net so sterk soos sy swakste skakel.
Wat my as hokkie kaptein inspireer elke keer wanneer jy op die hokkieveld stap vir ‘n wedstryd, is my spanmaats.
My lekkerste wedstryd was teen Eunice High School. Ons het baie goed as ʼn span saamgewerk en nie ophou baklei nie. Ons gemoed was reg, en omdat ons nie opgegee het nie, het ons gewen! My slegste wedstryd, wat ek gou wil vergeet, was teen Bethlehem Voortrekker Hoërskool. Ons het geleer dat, as jy as ʼn span saamwerk, ons eintlik sterker is as wat ons besef. Dit was nie lekker nie want die afrigters en opponente het nie goeie sportmanskap gehandhaaf nie. Ons het ook beserings gehad.
Druk op die veld
Ek hanteer druk op die veld deur kalm te bly en te kommunikeer met die res van die span. As hokkie kaptein motiveer ek my span voor elke wedstryd deur hulle moed in te praat en dat elkeen moet onthou wat van hulle verwag word. Ek probeer ook om van klein oorwinnings iets groots te maak.
My top 5 prioriteite in die lewe is: my verhouding met die Here; skoolwerk; my hokkiespan en oefening; familie en vriende en sosiale lewe.
As ek raad kan gee aan beginners, sal dit wees: hou aan! Dit is nie maklik nie, maar ek belowe dit is die moeite werd.
Ja, ek kyk gereeld na hokkiewedstryde op televisie. Dit gee my nuwe idees en dit maak my opgewonde. Ek het nooit probeer om ‘n professionele speler na te boots nie. Ek probeer altyd realisties wees.
My huidige korttermyn doelwit is dat ek oor ses maande wil kan sê dat ek my alles vir ons span gegee het. Graag wil ek kan terugkyk en trots wees. Ek wil dinge en mense beter los as wat ek dit gekry het.
Verantwoordelikhede
My verantwoordelikhede by hokkie, saam met sosiale en akademiese verantwoordelikhede, hanteer ek as volg: akademie is die belangrikste, want dit vir seker my toekoms. Hokkie is een van my hoof-prioriteite omdat ek ʼn verantwoordelikheid teenoor die span het. Sosiale lewe is op die oomblik laaste in die ry. Matriek is nie vir sussies nie.
Ek beplan om met hokkie voort te gaan na skool. Ja, ek sal graag by die Universiteit wil aangaan met hokkie.
As hokkie kaptein is die grootste enkele hoogtepunt die afgelope vyf jaar om ʼn span van Oranje en Eunice te wen.
Ander belangstellings, buiten hokkie, is Voortrekkers en ek is baie passievol daaroor.
Ons afrigter en my spanmaats sal my beskryf as streng, maar regverdig. Oor watter bekwaamhede ek beskik as goeie hokkiespeler? Ek bly kalm in moeilike situasies. Ek sien die groter prentjie.
Ja, ek sien op na juffrou Roxie Siebert as my rolmodel. Sy het ʼn groot passie vir hokkie. Sy hanteer ons soos haar eie kinders.
Wat my die meeste opgewonde in die lewe maak, is my familie, vriende, hondjies en spanmaats.
Die professionele hokkiespeler saam met wie ek baie graag wil koffie drink is Erin Hunter.
As ek myself in een woord moet beskryf, sal dit wees: doelgerig.“
Meer skolenuus: https://schoolsthatrock.co.za
Foto verskaf