Plaaslewe. Die plaslewe roep. Ek word wakker van die irriterende geruis van voertuie en verkeer. Ek hoor toeters uit verskillende rigtings. Tipies stadsmense. Tipies die stadslewe. Dit is nog nie eens sesuur nie en die mense is klaar ongeduldig met mekaar. Vroegoggend is hier geen rus en vrede in die stad nie; dit laat my terugverlang na die stilte van die plaaslewe.
Ek staan op en trek die gordyne oop. Die lig is nog donker, maar daar is geen môrester in sig nie. My oë word eintlik seer van die stadsliggies se geflikker. Ek wil huis toe . . . plaas toe . . .
Ek wil plaas toe na die sterre in die nag. Ek wil plaas toe na die reuk van mieliepap en plaasbrood wat geurig in die kombuis hang. Ek wil plaas toe na die soet moerkoffie en my ma se anysbeskuit. Ek wil plaas toe na die gedreun van die trekkers op die werf . . . op die lande en die verslawende grondreuk.
Ek wil weer Oupa se oorlogstories hoor. Ek wil weer Pa se beeste voer en myle en myle se drade reg span. Ek wil weer op ‘n donker, yskoue Vrystaatse oggend in die stroper klim. Ek wil hê die stof moet op my khakibaadjie vasplak. Ja, ek wil die koue, nat plaasgrond in my hande voel . . .
Ek wil plaas toe . . . na die Augustuswinde as die swart roet swaar op almal se harte druk. Ek wil die Oktoberreën oor my gebrande skouers voel en ek wil die Novembermielietjies sien kop uitsteek bo die grond. Ek wil Junie se gevrieste waterpype stukkend stamp. Ek wil die Viljoenskroon se sonsak op my gesig voel en die jakkalstjank tussen die sonbesies en skaapblêre hoor!
Ek wil in vrede ‘n vleisie op die kole braai.
Ek verlang na my boerboel wat sy slobberbek teen my broek afvee. Ek verlang na my skaaphond wat stertswaaied en vol blydskap oor die werf draf as hy my sien.
Ek wil weer op ‘n Sondagoggend ongestoord by ‘n klipkerk instap en daardie vrede ervaar wat alle verstand te bowe gaan. Ek wil soos ‘n sorgelose kind kleilat gooi en wil hê die modderstrepe van die laat reën moet op my bakkie se bliklyf vasklou. Ek wil weer my vellies aantrek en my Gerber-knipmes in my broeksak dra. Ek wil weer vir ‘n lammetjie melk gee en vir daardie parmantige hoenderhaan weghardloop.
Ek wil weer volwaardig mens wees . . .
Die stad raas en my ore suis. My hart is rou en seer. Ek verlang na my honde, my mense, my grond.
Die plaas is my hart.
Die plaas vloei deur my are.
My hart klop reën.
Ek is ‘n boer.
Ek hoort nie hiér in die stad nie!
Ek gaan plaas toe . . .
– deur Zaniel van Huyssteen, graad 11-leerder van Hoërskool Salomon Senekal op Viljoenskroon.
Foto verskaf
Lees meer skolenuus: