Só graag sou sy weer vir Oranje se eerste netbalspan wou speel, Carli Olivier is bereid om haar geliefde Springbok-trui en fizzer-verslawing daarvoor in te ruil.
Die Springbok-trui is die een waarin sy altyd by oefeninge opgedaag het.
Vir Carli (gr. 12), wat sedert verlede jaar vir die eerstes speel, was dit ’n bitter pil om weens die pandemie nie vanjaar gestalte aan doelwitte op die netbalbaan te gee nie.
“Ons het gewerk om weer die Vrystaatbeker te wen en natuurlik ‘n oorwinning oor Bloemhof. Ons wou almal net individueel en as span verbeter en saam groei.
“Ek dink nie daar is gepaste woorde om die tranedal te beskryf nie. Ek was in die begin rêrig hoopvol ons sou iewers die jaar kan speel, maar die hoop het stadig uitgeloop.
“Ek het uitgesien na die gevoel om daai witbaadjie aan te trek en die skoenlappers in die maag as die skool die sportlied skree terwyl jy wag vir die fluitjie om te blaas by groot interskoles,” verduidelik sy.
Carli, wat in 2018 vir die Suid-Afrikaanse o.16-span gespeel het, sonder verlede jaar se eindstryd van die Vrystaatbeker teen die Hoërskool Sentraal uit as een wat haar lank sal bybly. Oranje het met ’n enkele doel gewen.
“Die hele wedstryd was ‘n blur as ek nou terugdink, maar niks sal ooit daai gevoel kan vervang toe die eindfluitjie blaas en juf. Marais (spanbestuurder) arms in die lug opspring nie. Ek dink ek het Lisa (Cronjé, spanmaat) in daardie oomblik omgeduik!”
Spanmaats word volgens haar baie vinnig van jou beste vriendinne. “Almal in die span asook ons afrigtingspan is jou grootste cheerleaders. Almal wil jou sien groei en ondersteun jou selfs deur al die klein seges.
“Ek dink tussen ons tien lede van die eerste netbalspan sou ons ’n kusdorpie kon vloed met al die trane wat gestort is. Ek mis gymsessies en situps doen en al die simpel inside jokes. Ek mis vinnige koffie-afsprake en spanbou by Le Quack. Al was ons seisoen kort, was dit ongelooflik om saam julle te speel,” is Carli se boodskap aan haar spanmaats.
* Die artikel is ’n eerbetuiging aan Carli vir haar diens aan die skool se 1ste netbalspan en vir dit wat sy vanjaar vir die span sou beteken het.