Dit is Saterdagaand, 18 Augustus 1990. Die opwinding van nog ‘n Interjolsege is nog tasbaar toe die ontstellende nuus kom: Tannie Maria Viviers, jare al die sekretaresse by Hoërskool Upington, en haar man, Jannie is dood tydens ‘n plaasmoord op Louisvale. Dit is ‘n hartseer dag vir Hoërskool Upington – Tannie Maria het net die vorige aand ‘n toekenning gekry vir 30 jaar diens aan Hoërskool Upington.
Die gebeurtenis het ‘n groot leemte gelaat in Hoërskool Upington en om Tannie Maria se nagedagtenis lewendig te hou, het die personeel ‘n mooi gebaar geïnisieer. Daar word toe ‘n peperboom in die vierkant geplant sodat Tannie Maria altyd in die hart van Uppieland kan wees.
So groei die boom en word sterker en groter. Dit oorleef ‘n paar dekades se wind en reën en duisende kinders staan die een of ander tyd in die skadu van dié boom in die vierkant.
Dis die jaar 2020 en niks is skielik dieselfde nie. Covid-19 laat sluit die skool vir maande en, na vele ontberinge, waai ‘n sterk wind ons Tannie Maria-boom uit sy wortels. Sentiment wou eers die boom daar hou, maar die wortels het die sement gebreek en dit het begin om gevaarlik te raak.
Teen wil en dank word dié ou reus se wortels uit sy jarelange staanplek gehaal. In hierdie “wond” word daar toe spasie gemaak vir “Hoop” en “’n Nuwe begin” om wortel te skiet. Gelukkig het Hoërskool Upington ook nie 2020 beleef as ‘n jaar van teleurstellings en hartseer nie, maar wel as ‘n jaar van “ ‘n nuwe normaal” met nuwe kanse, nuwe idees en ‘n Nuwe Begin.
O.l.v. Johann Strauss (waarnemende argitek) en Elma Carr kry ons vierkant ‘n nuwe vorm. Hulle twee, en ‘n paar borge, neem die vierkant onder hande en verander dit in ‘n oase waar menige leerders (en onderwyser) nog baie goeie herinneringe gaan maak.
Dele van die Tannie Maria-boom bly vir die nageslag behoue in die vorm van ‘n groot “lemoen” wat, uit die hart van die oerboom gekap is. Dit sal in die Gerhard Beukes gehou word as deel van Hoërskool Upington se geskiedenis en kultuur, maar ook as simbool van 125 jaar se herinneringe. Dit is ‘n bewys dat dié karaktervolle skool van ons in krisistye nie gaan lê het nie, maar dat uit die letsels en wonde nuwe lote spruit wat sterk boompies vorm.
Vandag, 4 September 2020, Boomplantdag, vier ons die LEWE. Ons plant nuwe bome vir ‘n nuwe toekoms vol avontuur en nuwe uitdagings, maar nie sonder dat ons die ou herinneringe koester nie.
Hierdie stuk van Hoërskool Upington se geskiedenis word mooi opgesom in die volgende gedig van Francolien du Plessis. (sien aangeheg)
Berig geskryf deur Madelein May.