Die ESSASA Nasionale Proewe was in Parys gehou vanaf 24-26 Januarie. Uppies is baie trots op Jessi wat ingesluit is in die Junior Protea Vyfgang Span.
Die Noord–Kaap het vanjaar weer ‘n goeie span gehad wat deelgeneem het aan die proewe. Daar was ‘n totaal van 30 ruiters wat deelgeneem het in die Driegang afdeling en 26 ruiters in die Vyfgang afdeling.
Uit hierdie groot groep ruiters word daar slegs 12 ruiters gekies vir die Senior Protea Span, asook 12 ruiters vir die Junior Protea Span.
Die Span van 2019 bestaan uit die volgende ruiters: Mary-Ann Lovemore, Amelia Kemp, Jessie Wessels, Beane’ Compion, Narike Hoft en Tshidisho Mahifu Ruiters word deur die loop van drie dae beoordeel. Op dag een en twee word ruiters in groepe van 10 beoordeel.
Na die twee dae word daar 18 ruiters gekies wat dan teen mekaar meeding vir ‘n plek in die top 12.
Ons is baie trots om te sê dat 2 van Uppies se ruiters deurgegaan het tot die top 18.
In die Driegang Afdeling was dit Narike Hoft (Uppies) en in die Vyfgang Afdeling was dit Jessi Wessels (Uppies).
Dit is vir die Noord-Kaap provinsie ‘n groot trots om dan vir Jessi Wessels baie geluk te wens met haar insluiting tot die Vyfgang Junior Protea Span. Die Span gaan in Julie 2019 aan ‘n Internasionale byeenkoms in New Orleans deelneem. Jessi en haar perd BRT Street Assignment was ‘n gedugte span.
Beide Jessi en haar perd word afgerig deur Martin L Pienaar van die Dream Acres Equestrian Centre in Bloemfontein. Daarmee sit Jessi ‘n trotse tradisie voort in Hoërskool Upington.
Ons wens die ruiters ‘n voorspoedige 2019 toe met als wat hulle nog gaan aanpak.