Mangaung se senior netbalspan – Hoër Meisieskool Oranje is ongelooflik trots op Marianne Louw. Sy is ’n graad 12-leerder van Hoër Meisieskool Oranje. Marianne is slegs 17 jaar oud en het haar plek in die Mangaung senior netbalspan verseker. Hierdie prestasie is des te merkwaardiger. Sy moes teen ouer en meer ervare spelers meeding om haar plek in die Mangaung se senior netbalspan te verdien.
Die span sal vanaf 1 Desember deelneem aan die Nasionale Netbalkampioenskappe in Boksburg. Dit is ’n toernooi wat van die beste talent in die land byeenbring. Mangaung het verlede jaar as naaswenner geëindig, en die span is vasbeslote om vanjaar die kroon te verower.
Marianne se pad na hierdie hoogtepunt was nie sonder uitdagings nie. Sy het onlangs herstel van ’n skouerbesering wat haar ongelukkig van deelname aan die SA o.20-span weerhou het. Sy was gekies om Suid-Afrika te verteenwoordig by die Afrika Streek 5-Jeugspele in Julie, maar moes weens haar besering opsy staan.
Tog het Marianne teruggeveg, met toewyding, harde werk en ’n passie vir die spel. Dis ‘n bewys dat ware kampioene nie net op talent staatmaak nie, maar ook op deursettingsvermoë.
Schools That Rock wens jou en die Mangaung-span alle sterkte toe vir die kampioenskappe.
Oranje staan ook vierkantig agter jou, Marianne!
Meer skolenuus: https://schoolsthatrock.co.za/
Foto voorsien
Become a Sponsor








