Hoofdogter 2025. Soos die afgelope aantal jare, gesels Schools That Rock hierdie jaar weer met die Hoofleiers van Hoërskole in Suid-Afrika. Vandag gesels ons met Mila Viljoen, Hoofdogter 2025 van Hoërskool Langenhoven, Riversdal, in die Suid-Kaap.
“Waarna ek die meeste uitsien vir my leierskapsjaar is om as mens te groei en nuwe vaardighede aan te leer. Ek dink die jaar gaan soms uitdagend raak, maar mens kan net sterker aan die anderkant uitkom. Ek sien ook uit om met die kinders van my skool te werk en nuwe vriendskappe te vorm.
My doelwit vir die jaar is om soveel as moontlik te groei en te leer. Ek wil buite my gemaksone beweeg. Ek wil ook die groot voorreg wat ek ontvang het tot die beste van my vermoë gebruik. Verder wil ek altyd myself wees en die Here se naam grootmaak met alles wat ek doen. Vir Hoërskool Langenhoven sal ek graag ons sisteme probeer verbeter en nuwe, meer produktiewe maniere vind om dinge te doen. Ek sal ook graag nuwe tradisies wil begin.
Eienskappe van skool
Die eienskappe van Hoërskool Langenhoven wat vir my die meeste uitstaan is die mense wat plat op die aarde is, maar droom groot en ongelooflike dinge bereik.
Daar is ‘n paar dinge wat ek wil verander. Ek sal graag die leerders se skooltrots wil verbeter. Ek wil ook vir die kulturele kinders meer geleenthede skep om hul talente met ons te deel.
Om iemand te oorreed om Langenhoven hul skool van keuse te maak, sal ek hulle vertel wat Langenhoven alles vir my beteken en hoeveel geleenthede daar vir jou gebied word. Langenhoven voel regtig soos ‘n tweede huis.
My sterkste leiers-eienskap is die feit dat ek ‘n omgee-mens is. Ek dra altyd my medemens se belange op die hart. Ek doen alles ook altyd behoorlik, na die beste van my vermoë, of eerder glad nie.
Samewerking
Samewerking van my span word verkry deur motivering en aanmoediging. Ek gee hulle ook die geleentheid om hulle idees te deel wat ons dan motiveer om as ‘n span saam te werk om dit te realiseer. Ons doel hierdie jaar is om woorde in aksie om te sit.
Die persoon na wie ek die meeste opsien is my oupa. Hy was seker die intelligentste mens wat ek al ooit ontmoet het, maar tog was hy só nederig. Hy het my ouma ook altyd op sy hande gedra. Dit was vir my so mooi om te sien. Hy was ook baie siek gewees, maar ek het hom nooit hoor kla nie.
Ek dagdroom baie oor die toekoms. Ek droom daaroor om eendag ‘n dokter te wees en om ‘n verskil te maak in ander mense se lewens.
My gunsteling gereg? My Ma se hoenderkerrie!
Indien ek ‘n kombuis-artkel sou wees, sou ek ‘n klitser wees.
Ek sal graag na skool medies wil gaan studeer by die Universiteit van Stellenbosch.”
Lees meer skolenuus: https://schoolsthatrock.co.za/
Foto verskaf
Become a Sponsor








