Schools That Rock het ‘n paar vrae gevra aan Lize Rheeder, Hoofdogter van Hoërskool Swartland in Malmesbury.
Vraag: Waarna sien jy die meeste uit wanneer die 2021 skooljaar begin? Ek sien uit daarna om te begin met my hoofdogter-verpligtinge en kan nie wag om weer my Rockie familie te sien nie.
Vraag: Is daar enige aanpassings/ veranderinge wat jy graag wil sien gebeur by Hoërskool Swartland? Ek sal graag wil sien hoe ons as skool daarna streef om meer groen te leef. Ek glo ook baie leerders het vele talente, anders as skoolsporte, waarvan ons nie bewus is nie. Ek sal graag vir hulle ‘n geleentheid wil gee om dit vir die skool te wys.
Vraag: Indien jy iemand moet oorreed om Hoërskool Swartland hul keuse te maak, wat sal dit wees? Ek glo vas dat dit die mense is wat die skool maak, en nie die skool wat die mense maak nie. By Hoërskool Swartland is daar ‘n gevoel van eenheid en familie onder al die leerders. Ons is hardewerkende leerders en dra mekaar deur moeilike tye. Ek dink nie jy sal êrens beter onderwysers vind as hier by Swartland nie. Hulle gaan uit hulle pad uit om seker te maak dat jy jou volle potensiaal bereik, akademies en as mens.
Vraag: Wie is jou rolmodel by jou skool? Dit is vir my onmoontlik om net een te kies! My rolmodelle by my skool is beslis juffrou Christine Blom en Gerda du Plessis. Hulle is hardwerkend en ongelooflike sterk vroue met ‘n klerestyl beter as myne.
Vraag: Watter sportsoort is jou gunsteling? Ballet
Vraag: Wat is jou gunsteling gereg? Ek is baie lief vir wraps, asook enigiets met pasta.
Vraag: Watter loopbaan wil jy volg na skool? Ek wil sendingwerk doen oorsee vir ‘n paar jaar en dan in die bediening gaan. Ek sal ook graag eendag ‘n boek wil skryf en ‘n koffiewinkel oopmaak.
Vraag: Na watter universiteit wil jy volgende jaar gaan? YWAM Kona in Hawaii (Youth With A Mission).
Vraag: ‘n Boodskap aan jou mede-skoliere vir 2021: As daar een ding in die lewe is waaroor ek 100% seker is, is dit dat jy die vrugte pluk van jou harde werk. Jy mag dalk teleurstellings ervaar het in 2020. Of dit nou akademies, op die sportveld of sommer net in die lewe was, maar 2021 is ‘n nuwe jaar propvol nuwe geleenthede. Ek hoop elkeen van julle streef hierdie jaar om julle beste te behaal in alles wat julle aanpak. Werk hard, hou jou voete op die grond en jou oë op God.