June 18, 2020

Details:

Name Hoër Meisieskool Oranje Category Freestate

Schedule

Date:

Opedag aanlyn ’n eerste vir Hoër Meisieskool Oranje

n Paar matrieks van die Hoër Meisieskool Oranje word vroeër vandeesweek afgeneem vir een van die skool se opedag-video’s

Covid-19 het skole vanjaar gedwing om aan te pas en met nuwe idees vorendag te kom, soos om ’n opedag op ’n ander wyse aan te bied.

Die Hoër Meisieskool Oranje se opedag was vir einde April gereël, maar is deur die pandemie in die wiele gery wat die skool ander planne laat beraam het. Pleks van dit aflas, word dit nou aanlyn aangebied. Oranje se heel eerste aanlyn-opedag kan vanaf vandag (18 Junie) by www.oranjemeisies.co.za/opedag besigtig word. Daar is 40 video’s om na te kyk.

Volgens mev Anne-Marie Klink, skoolhoof, het Covid-19 ander moontlikhede geskep.

“Tydens ’n opedag is daar dikwels soveel inligting om op een slag in te neem. Nou kan voornemende leerlinge rustig tuis na al die video’s kyk of na dié waarin hulle belangstel. Dit is ook ideaal vir diegene wat nie die opedag sou kon bywoon nie of wat in ander dorpe of stede woon.

“Met ons aanlyn-opedag wil ons ’n blik gee op dit wat die skool alles bied, wat ons uniek maak, soos ons tradisies en hoe dit hier lyk, danksy ’n terreintoer. Die video’s is almal bondig saamgevat en die toesprake kort.”

Volgens mev Klink is ’n klomp matriekleerlinge by die maak van die video’s betrek.

“Dit was vir hulle ook spesiaal om by hierdie eerste vir die skool betrokke te wees in ’n jaar waar hulle van soveel geleenthede weens die pandemie ontneem is,” sê mev Klink.