Ek begin my verhaal deur ‘n bietjie agtergrond te gee oor wat ek tans doen as ‘n pre-juniorfase onderwyseres.

Ek het ‘n Bio-Link agentskap:   Bio-Link Attention Training Lynnwood, waar ons kinders se fokus en konsentrasie verbeter. daar is meer as 50 agentskappe in Suid-Afrika asook in ‘n paar ander lande. Ons het ongelooflike suksesstories, veral met ADHD en ADD kindertjies.

Kortliks oor Bio-Link:

Met Bio-Link sessies leer die kind die vaardigheid aan om te fokus in situasies waar hy/sy verveeld is of dalk nie gestimuleer word nie. Die kind met goeie konsentrasie kan dan vinniger huiswerk doen en het dan meer speeltyd. Dit breek my hart as ek met ouers gesels en hulle vertel dat hul Gr 1 of 2 kind die hele middag met huiswerk besig is. Dit breek ook daardie kind se spoed en dit is wanneer negatiwiteit teenoor huiswerk ook begin.  Geen ouer wil hê dat dit al in Gr 1 moet gebeur nie. 12 Jaar kan baie lank wees vir ouer en kind as dit die geval is. Ons wil almal hê ons kinders moet skool geniet en dit positief ervaar.

Kinders wat beter konsentreer in die klaskamer, voltooi ook take vinniger en korrek. Dit is baie afbrekend vir ‘n kind om elke dag te hoor, “jy is alweer nie klaar nie”, of “jy sal dit maar weer by die huis moet gaan voltooi”, of die kind moet elke dag pouse of sangperiode sit om werk klaar te maak. Ek hoor van soveel klein kindertjies wat niks van skool hou nie, as gevolg van negatiewe kritiek elke dag. Dit is so onnodig!

Ek gaan so bietjie agtergrond skets oor hoe en hoekom ek met Bio-Link begin het!

Ek het onderwys studeer aan die Universiteit van die Vrystaat. Daarna was ek vir 12 jaar ‘n hoofstroom Gr 3 onderwyseres.

In 2006 het ek besluit om die onderwys vaarwel toe te roep. Ons oudste kind het met Gr 1 begin en ek  het besluit om meer aandag aan my eie kinders gee.

En dit is nou waar die kindjie wat anders is, inkom. Ons tweede seun, Johan, is gebore met ‘n breinbesering. Hy is nou 16, glad-nie dom nie, hy het ‘n normale IK, doen sport soos enige ander kind en hy droom groot drome oor sy toekoms, soos ons almal. Hy is egter leergestrem en hy pas nie in die hoofstroom in nie. Ek moet dit net noem dat die hoofstroom hom gebreek het. Hy het geen selfbeeld of selfvertroue oorgehad nie.

Hy het ‘n probleem met sy korttermyn geheue. In Gr R en Gr 1 kon hy glad-nie van vandag na môre nuwe klanke of getalle onthou nie. Lees en syfers was ‘n groot probleem om aan te leer. Op daardie stadium was daar nog nie hulpmiddele soos Bio-Link nie. Vanaf Gr 1 het hy medikasie geneem. Dit het vir hom geweldig baie beteken en hy het begin vorder.

Toe hy in Gr 3 was, het ek besluit om met Bio-Link te begin. Ek wou my eie kind help en sommer ander kinders ook wat sukkel met konsentrasie. Ek het egter nie geweet of dit vir Johan gaan help nie. In Gr 4, nadat ek 40 ure met hom gewerk het, kon ek waarneem dat die medikasie nie meer ‘n verskil maak nie. Ek noem altyd aan ouers dat medikasie ‘n radikale verskil moet maak, anders help dit glad-nie. Johan kon toe sonder medikasie steeds gevorder. Ons doen hierdie jaar Gr 8, sy korttermyn-geheue het ongelooflik verbeter en sy konsentrasie ook.

Glo my, ek het niks teen hoofstroom-skole nie. Ons ander 2 kinders is tans in die hoofstroom, maar my vraag is: “kan alle kinders hul volle potensiaal bereik in ‘n hoofstroom-skool?”

 

Janine Grobbelaar

Epos: grobbelaar.janine4@gmail.com

Like
Like Love Haha Wow Sad Angry